Spirituele Begeleiers

Spirituele begeleiding is ’n gespreksmetode wat deur die eeue in die Christelike kerk ontwikkel het. Dit was altyd meer bekend in die Rooms-Katolieke en Anglikaanse tradisie, maar in baie Protestantse kerke het dit die laaste jare ’n waardevolle rol begin speel.

Die doel is die bevordering van jou eie geestelike reis. Gewoonlik is dit van groot waarde hiervoor. Dit gaan oor hoe jy jou verhouding met die Here ervaar en oor wat die Here aan die doen is in jou lewe en persoonlikheid. Dws die werkwyse is psigo-spiritueel in die sin dat jy en jou begeleier ook na jou persoonlike ontwikkeling kyk as deel van jou spirituele ontwikkeling. Hoofsaaklik loop die begeleier nie voor jou uit nie, maar agter jou aan om jou te help sien en ervaar.

Wat gewoonlik goed werk, is om mekaar eers so viermaal vir ongeveer ’n uur te sien, min of meer twee weke uit mekaar, en dan evalueer die twee of hulle vir sowat ’n jaar wil aangaan op maandelikse basis. Daarna kan dit maandeliks of met ’n laer frekwensie voortgaan, of die proses kan vir eers afgesluit word. Sommige begeleiers vra ’n donasie en ander ’n fooi van ongeveer R500 per sessie/uur.